Totale bladsykyke

Vrydag 22 September 2017

Om tussen die wolke te wees

Vandag was ek baie naby aan God...
Hoog op 'n berg, tussen wolke...
In die “veld” met 'n koppie koffie.
Met iemand wie ek lief het, aan my sy...
Iemand wat omgee op sy eie manier,
dankbaar sonder woorde,
want woorde kan nie beskryf hoe dit voel nie.
Sodat “ek is lief vir jou” die enigste woorde is wat uitglip.
Vir hom het dit meer as net “ek is lief vir jou” beteken.
En vir 'n paar uur was dit net ons & God se skoonheid
& wolke wat om ons heen gaan.
Ons is tussen die wolke...
Die sagte aanraking van God.

Dinsdag 10 Januarie 2017

Langpad-liefde

Langpad-liefde

En so durf ek
die langpad huis toe.
My gedagtes staan op een plek stil,
terwyl die kilometers verby dans.
Wanneer sien ek jou weer?
Wanneer kan ek weer die langpad vir jou durf?
Ek wil jou sien glimlag,
en die seer weg soen.
Ek wil sorg dat jou magie vol is,
en jy okay is.

Woensdag 04 Januarie 2017

Wortels van 'n verhouding

My gedagtes gesels vannaand
met die vlak verlange
na 'n man wat baie kosbaar is.
My liefde dieper as
'n boom se wortels.
Maar hy is vêr buite
die sienende oog.
Ons siele baljaar
in die skadu van 'n ou kasteel.
Ons hande soek na bekende kurwes,
en ons lywe smag na mekaar.
Ons voete bereid om afstande af te lê,
maar omstandighede verhoed dit.
Al wat ons oor het is:
vertroue in mekaar
opbouende liefde
aanvaarding vir mekaar
God se hand in ons verhouding
aanhoudende gebede
geloof

Dinsdag 03 Januarie 2017

'n Bitter eensaamheid

Die waardering van eensaamheid
Ontvou my vanaand met oorgawe.
Die windjie koel die dorre aarde
Stelselmatig af.
Met 'n skerp wind wat
Ongelukkigheid,
Verlange en
'n bitter eensaamheid
Met valse wolke bring.

Want my hart is swaar
En die verlange diep
En die hart is baie ver van die huis.

Sondag 11 Desember 2016

Dad se liefde

Dad se liefde is soos
skottelgoed,
dit hou nooit op nie.

Soms kyk ek daarna
en wonder:
"hoe de hell kan daar so baie wees?"
Ander kere raak ek gatvol
om die teelepels te was,
want daar is net te veel.
Maar elke beker koffie,
wat deur elk van daai lepels gemaak is,
is met baie liefde gemaak.
Elke bord nog 'n bietjie liefde,
gegee aan almal wat daarna smag.

Dad, is soos die kraan wat water tap,
gee net altyd...
en al wat Dad terug kry
is glimlagte en drukkies
en Dad is dood tevrede daarmee.
Ek dink dis daaroor dat
ons nooit die buite hek sluit nie
en die kombuis deur altyd oop is,
want elke ongenooide is welkom...

Sondag 02 Oktober 2016

Meisiekind ~ Gedig

Meisiekind


Groot meisie...
Sterk meisie...
Glimlag so helder,
maar flous so baie.

Mooi meisie...
Sterk meisie...
Dag na dag
   stap jy
van straat na straat
  en niemand
maar niemand
sien die pynlike,
swaar seer
wat jy saam
   dra nie

Sterk meisie...
Seer meisie...
Soms moet jy erken
als is nie okay.
Dit is okay om
die wêreld jou swakheid
te wys.

Seer meisie...
Dapper meisie...
Gaan huil op iemand se skouer,
want selfs jy is ook net mens.